Hatch Communication
Stellenbosch toerisme groei sterk

Toerisme na Stellenbosch toon tans sterk groei, dit terwyl amptelike statistiek ‘n 10,3 %-afname in buitelandse besoekers na Suid-Afrika gedurende die eerste ses maande van 2015 gee.

Die toerisme-syfers vir Stellenbosch wat gedurende die afgelope jaarvergadering van Stellenbosch 360, die plaaslike toerisme-organisasie, deur prof Andreas van Wyk verstrek is, het daarenteen op deurlopende groei gewys. So het die Besoekersentrum se getalle vanjaar ‘n 20 %-groei van Januarie tot Junie getoon, wat ‘n voortsetting van sowat 19 % gedurende dieselfde tydperk in 2014 is. Daarbenewens het die Sentrum ook ‘n rekordbedrag van R 1,7 miljoen se akkommodasie-besprekings hanteer en verder R 90 000 se verkope aan poskaarte behaal.

Toerisme-aksies

Die vraag kan gevra word wat die resep vir hierdie positiewe groei ten spyte van negatiewe marktendense is?

In ‘n onderhoud met twee bestuurslede van Stellenbosch 360, Annemarie Ferns en Riël Meynhardt, uitvoerende hoof en raadslid, is dit duidelik dat die organisasie besig is met ‘n langtermyn en deurlopende program wat reeds goeie resultate lewer. “Ons begin nou die vrugte pluk van ons 2014-besoeke na die Ooste (Japan, Korea en Indië) enersyds en andersyds Europa waar ons hard gewerk het om Stellenbosch as ‘n voorkeur internasionale toerisme- en konferensiebestemming aan toeroperateurs en ander te bemark. 63 toeroperateurs is in Duitsland, Oostenryk, Swede, Nedeland, België en Switzerland besoek en daar is ook drie belangrike samwerkingsooreenkomste beklink.” Sy wys daarop dat gesigte van onder andere besoekers uit Oosterse lande meer en meer opvallend in die omgewing word.

VSA-besoek

‘n Paar lede van Stellenbosch 360 en die Cape Country Routes-hotelgroep, met die steun van Wesgro, het verlede week teruggekeer van ‘n soortgelyke bemarkingsbesoek aan die Weskus van die VSA. “Ons het ‘n suksesvolle besoek aan 9 groot toeroperateurs in onder meer Los Angeles gebring wat reeds gevestigde bande met ons land het. Verder was ons die eregaste by die jaarkongres van APTA (Association for the Promotion of Tourism to Africa), bestaande uit toeroperateurs uit die VSA en Kanada, waar ons ‘n topklas-aanbieding oor Stellenbosch as toerismebestemming kon gee en verskeie samewerkingsooreenkomste word beoog”, aldus me Ferns. Verder is die kongresgangers ook by hulle dinee bederf met Suid-Afrikaanse trefferwyne wat deur Neil Ellis, Ernie Els en Spier geborg is.

Volgens Riël Meynhardt bied besoeke soos hierdie veral die geleentheid om Stellenbosch, wat meesal as ‘n dagbesoek-bestemming beskou word, ook sterk as ‘n oornagbestemming te kon bemark. “Ons het die omvangryke ontwikkelinge in infrastruktuur en akkommodasie, restaurante en ander besoekersplekke in ons omgewing visueel voorgehou en groot impak gemaak. Soos ons weet, spandeer ‘n toeris sowat 75% van sy dagbegroting in die area waar hy oornag.” Hy beklemtoon verder dat die VSA die grootste groeipotensiaal vir toerisme na Suid-Afrika het en dat dit ideaal pas in ons skouerseisoen wat vanaf April tot September strek.

Sukses

“Ons is oorweldig deur die entoesiasme van die Amerikaanse toeroperateurs – ons plaaslike kultuurtoere het ook wye belangstelling geniet. Hulle is gereed vir samewerkingsooreenkoste en kan nie wag om ons te besoek en die volgende INDABA in ons land te kom bywoon nie. Ons is ook reeds uitgenooi om volgende jaar se APTA-kongres aan die VSA se Ooskus by te woon”, aldus me Ferns.